V&A met Dillyn Leyds

V&A met Dillyn Leyds

9 years ago News

Hoe voel jy oor die ontwikkeling van jou spel sedert jou terugkeer uit Australië verlede jaar?
“Ek voel goed en het eintlik nie verwag om soveel speelkans te kry as nou nie. Gaaf, ek speel nie in my gunsteling posisie op vleuel nie, maar ek is baie dankbaar om net in die span te kan wees. Ek het die meeste van dié geleentheid gemaak en hopelik kan ek daarop voortbou om ons in die uitspeelrondes te help kry.”

Was dit moeilik om aan te pas op die vleuel?
“Nee wat. Dis baie soortgelyk aan heelagter. Dis dalk nie sigbaar vir die publiek nie, maar ek het deur my posisionele spel op die vleuel ‘n paar blapse op die verdediging gemaak. Merendeels was dit egter nie ‘n taai uitdaging nie.”

Is dit meer uitdagend in die sin dat dit moeiliker is om betrokke te raak in die spel?
“Nee, want ek is altyd aktief besig om my hande op die bal te probeer kry en wag nie dat dit my kant toe kom nie. Ek werk hard van die vleuel af en bevind my soms in die middelveld of in ‘n losskakel-rol. Dis nie ‘n geval van dat ek selde in besit gestel word nie.”

Hoe dink jy gaan jy ontwikkel in terme van die posisies wat jy speel?
“Ek sal uiteraard graag geleenthede op heelagter en losskakel wil kry, maar daar is huidiglik ouens in daardie posisies wat goeie rekenskap van hulself gee. As die geleentheid kom, sal ek dit met albei hande aangryp.”

Dis seker goed vir jou loopbaan dat jou veelsydigheid uitgebou word.
“Ja, daar is geen rede tot ongelukkigheid nie. Dis ook nie in my aard om te kla nie. Ek leer meer oor die spel en as ek myself deur die loop van die wedstryd in die rol van eerste ontvanger agterlangs bevind, sal ek weet wat deur die opposisie-vleuels se gedagtes gaan.”

Vertel ons wéér van daardie pragdrie wat jy teen die Blues gedruk het!
“Dis seker die beste een wat ek tot nóg toe in my jong loopbaan gedruk het. Van my vriende spot my steeds dat my oë toe was toe ek die bal gevang het! Nic Groom was aan my binnekant en het die verdediger se aandag op hom gevestig. Ek het toe ná ‘n fopaangee my ore platgetrek doellyn toe!”

Jou vriende terg dalk, maar jy is seker tevrede met jou lugvaardighede.
“Dit het baie verbeter vanjaar, wat ‘n getuigskrif is vir die werk wat Vlok Cilliers en Paul Treu agter die skerms doen. Dis ‘n fyner kuns as om net in die lug te spring en die bal te vang. Dit neem tyd om die vaardigheid te bemeester en verg dat jy voortdurend hard daaraan werk.”

Dit klink of jy bly is oor die besluit om na die DHL-Westelike Provinsie terug te keer ná ‘n seisoen met die Force in Perth.
“Ja, beslis. Die seisoen in Australië was goed vir my omdat ek iets nuut wou ervaar. Dit het my buite my gemaksone geneem, maar dit was terselfdertyd maklik om aan te pas oor daar soveel Suid-Afrikaners was. Ek kon skouers skuur met Wallaby-spelers, wat ‘n goeie leerskool was.”

Die agterste driehoeke wat die DHL-Stormers vanjaar in die veld gestoot het was baie onervare. Was dit ‘n intimiderende ervaring?
“Dis ‘n spesiale ervaring, veral om saam met Cheslin Kolbe te kan speel. Ons het mekaar ook beter leer ken omdat ons op toer kamermaats was. Johnny Kotze, Kobus van Wyk en Seabelo Senatla is ook puik ouens en spelers. Die potensiaal is daar om nog baie wedstryde saam vir die DHL-WP en DHL-Stormers te speel.”

Jy’s ‘n lenige ou met vaart en goeie vaardighede. Wil jy ‘n bietjie gewig optel of is dit beter om by jou natuurlike bou en sterkpunte te hou?
“Ek wil ‘n bietjie groter raak, want vleuels is deesdae amper soos losvoorspelers. Ek wil egter nie só groot raak dat ek nie meer na my sterkpunte kan speel nie.”

Vir baie mense is dit ‘n verrassing dat die DHL-Stormers sterk aanspraakmakers is op ‘n plek in die uitspeelrondes. Het die doemprofete vir julle motivering verskaf?
“Ons het dit as motivering gebruik, maar nie om mense verkeerd te wil bewys nie. Die fokus was meer daarop om genot uit die ervaring te put omdat mense se voorspellings die druk op ons verlig het. Ons plaas egter nou baie druk op onsself om ‘n uitspeelwedstryd op DHL-Nuweland te behaal.”

DHL Stormers Matchday Magazine

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE