V&A met Devon Williams

V&A met Devon Williams

11 years ago News

Het jy ooit geding dat jy vanjaar vir die DHL-Stormers gaan speel?
“Nie regtig nie. Dis egter iets waarvan ek altyd gedroom het. Ek het baie opgekyk na Gio Aplon en wou graag vir Damian de Allende nadoen omdat ons verlede jaar saam Vodacombeker-rugby gespeel het.”

Hoeveel taaier is Super-rugby as om in die Vodacombeker-reeks te speel?
“Die rugby is baie vinniger, meer intens en uiters fisiek. Jy ervaar dit veral in kontak en by die losskrums.”

Was dit moeilik om in te skakel by die DHL-Stormers terwyl die span swaar getrek het?
“Die gevoel in die span was ondanks ons posisie op die puntelys altyd goed. Die senior manne het ‘n positiewe gees geskep en daar is samehorigheid. Ons streef elke week verbetering na.”

Hoe ervaar jy dit om met die sterre op hierdie vlak skouers te skuur?
“Dis ‘n droom wat bewaarheid is om met en teen spelers van daardie kaliber te speel. Die senior spelers soos Jean de Villiers en Schalk Burger weet wat om in druk-situasies te doen, bly kalm en gee baie goeie leiding.”

Wat is die grootste ding wat jy al geleer het?
“Ek sal net sê dat as jy tot op hierdie vlak gevorder het, beteken dit jy het tot op daardie punt hard genoeg gewerk. Terselfdertyd beteken dit dat jy daarmee moet volhard.”

Waar kom daardie x-faktor van jou vandaan?
“Ek werk met Dawie Snyman aan my aftrapwerk en ander vaardighede. Een van my sterkpunte is om my vaart te gebruik en ‘n een-op-een situasie te kan uitbuit.”

Hoe het jy die Vodacombeker-opset ervaar?
“Ek het John Dobson se afrigting baie geniet. Hy het altyd in my geglo en druk op my gesit om my potensiaal te verwesenlik. Hy en Dawie Snyman het my gedruk tot waar ek nou is.”

Is daar enige van jou drieë wat baie spesiale herinneringe is?
“My eerste drie vir die Stormers was ‘n grote. Jean het bresse geslaan ná ‘n skrum en die bal is vinnig deur Jaco Taute se hande na my toe. Daar was ook ‘n baie lekker een teen die Vrystaat-vyftiental in ‘n Vodacombeker-wedstryd. Ons het die bal wyd gespeel en ek het om twee stutte gehardloop voordat ek die heelagter in ‘n een-op-een situasie geklop het.”

Behalwe vir afronding, hoe voel jy oor die kernvaardighede in jou spel?
“Mense is dikwels onder die verkeerde indruk van wat ‘n vleuel se werk behels. Ons is nie net vinnige spelers wat drieë afrond nie. Ons moet om hoë balle meeding en het ‘n belangrike rol op verdediging. Dan moet ons óók in die wye kanale losskrums skoonmaak en werk gaan soek.”

Is jy soos Cheslin Kolbe ‘n student aan die Universiteit van Gio Aplon, of het jy ander rolmodelle?
“Ek het altyd opgekyk na van die Nieu-Seelandse spelers omdat hulle hardlooprugby speel. By die Stormers is dit ouens soos Gio en Juan de Jongh wat my helde was.”

Is dit moeilik vir ‘n klein speler om dit in rugby te maak?
“Daar is vir ons ‘n plek. Ouens soos ek en Cheslin is mededingend op hierdie vlak. As jy klein is, onderskat mense jou dikwels. Daar is gevolglik minder druk op jou en jy kan jou lekker uitleef. Dis ook ‘n kwessie van jou sielkundige ingesteldheid.”

Vertel ons ‘n bietjie van jou agtergrond.
“Ek is in Stellenbosch gebore en woon in Pniel. Ek was op die Hoër Jongenskool Paarl en het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer vir ‘n BA-graad in Ontwikkeling en Omgewing.”

Hoe gaan dit met die studies?
“Ek het al vir drie jaar gestudeer, maar moes dit vir eers net staak omdat dit met my rugby gebots het. As ek my laaste paar vakke wil klaarmaak, sal ek klasse móét bywoon en nie op vriende kan staatmaak om notas te bring nie. Ek sal kyk hoe my rugbyloopbaan vorder voordat ek die studies hervat.”

Het jy op skool aan ander sportsoorte deelgeneem?
“Ja, ek het atletiek geniet. Ek was ‘n naelloper in die 100m en 200m.”

Hoe ontspan jy ná ure?
“Ek gaan baie na ons strandhuis in Pringlebaai toe. Die ouens in die span met wie ek baie tyd spandeer is Juan, Kurt Coleman, Nizaam Carr en Cheslin.”

DHL Stormers Matchday Magazine

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE