Pure DHL Stormer, pure Bok

Pure DHL Stormer, pure Bok

11 years ago News

“Wees altyd gereed,” antwoord die DHL Stormers se begaafde jong losvoorspeler Siya Kolisi wanneer hy gevra word oor watter raad jy aan jong rugbyspelers kan bied.

Siya het self gewys wat kan gebeur as ‘n jong man die beste van sy omstandighede maak, hard werk en sy geleenthede aangryp. Hy kon nie Engels praat toe hy by Hoerskool Grey in Port Elizabeth aankom nie. Kolisi het egter ekstra lesse geneem en die uitdaging trotseer. So was hy ook bereid om bloed te sweet toe hy by die Westelike Provinsie se Rugbyinstituut in Stellenbosch opgeneem is.

“Dit was die definiërende oomblik van my loopbaan,” sê hy oor dié puik instelling wat jong rugbyspelers slyp vir ‘n loopbaan in beroepsrugby. “Dit het my gemaak. Ek het daar ‘n beter persoon geword. As jy dit as speler op ‘n hoë vlak wil maak, moet jy die WP se Instituut bywoon. Jy kan nie vir beter afrigting vra nie.

“Maar dis nie ‘n piekniek nie,” vertel Kolisi. “Daar word hoë eise gestel en dis ‘n toets van jou sielkundige gehardheid. Jou dag begin om 5:30 in die oggende. Jy leer baie oor jouself in die proses.”

Siya was ‘n uitblinker vir die DHL Westelike Provinsie se briljante O.19-span wat in 2010 die provinsiale kampioenskap gewen het deur die Blou Bulle met 26-20 in die eindstryd te verslaan. Dáár het hy ook met ‘n hele paar ander jonges gespeel wat sedertdien groot name in die Kaap geword het: Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni en Nizaam Carr.

Dis ‘n getuigskrif van hoe die WP se strukture voortdurend werk om die volgende generasie spelers op te lewer. So is dit ook die rede waarom ondersteuners perspektief moet behou wanneer groot name soos die Springbok-vleuel Bryan Habana en een van die wêreld se beste slotte in Andries Bekker besluit om oorsee te gaan speel.

Dis onafwendbaar dat top spelers op ‘n tydstip in hul loopbane oorsee gaan skuif. Solank as wat hul provinsie die strukture in plek het, sal daar altyd nuwe helde wees.

“Jy kan nie sommer net ouens soos Andries en Bryan vervang nie, maar ons sal regkom. Ons gaan nooit aan talent ontbreek nie,” sê hy.

So vertel Siya ook dat jong spelers nie ontmoedig moet word as hulle nie dadelik ‘n geleentheid kry nie.

“Moenie kla nie,” sê hy. “Wees net gereed vir wanneer daardie geleentheid kom.”

Gaan kyk gerus net hoe Kolisi ‘n huishoudelike naam geword het. Die Stormers se kaptein, Schalk Burger, het in die eerste wedstryd van hul veldtog in verlede jaar se Super-reeks ‘n ernstige kniebesering opgedoen.

Dit het die deur vir Siya laat oopswaai en hy het ‘n paar weke gelede sy Springbok-buiging teen Skotland in Nelspruit gemaak toe Arno Botha beseer is. Hy word veral geken aan sy hoë werkverrigting en was een van die besigste spelers in sy eerste seisoen van Super-rugby verlede jaar. Dieselfde geld vir vanjaar se reeks.

“Ongeag hoe taai jy is, móét jy deurlopend ‘n hoë werkverrigting op die veld handhaaf,” sê hy.

En, voeg hy by, jy moet ook daarop voorbereid wees dat jou tweede seisoen op ‘n hoë vlak nie naastenby só maklik as jou eerste sal wees nie.

“Dit was taai vanjaar,” sê hy. “Niemand buite die WP het my verlede jaar geken nie. Ek moes vanjaar harder werk, meer fisiek inklim en akkurater wees in wat ek doen.”

Siya het op junior vlak as agtsteman uitgeblink, maar die besering aan Burger het beteken dat hy die pos as oopkantflank moes aanvaar. Dáárin het hy gedy. En toe hy sy Springbok-buiging maak nadat Botha beseer is, was dit in die rol van ‘n nr.7-flank.

Hy is juis toe as die speler van die wedstryd in die Springbokke se sege van 30-17 teen Skotland aangewys. Hierdie keer was dit sy lopies met die bal in die hand wat die oog getref het.

Watter posisie verkies hy? “Ek kan enige plek in die lostrio inskakel en beskou myself as ‘n veelsydige speler,” sê hy.

Hy het ‘n gedugte losvoorspeler-kombinasie met nóg ‘n Springbok in die agtsteman Duane Vermeulen, asook die rateltaai flank Rynhardt Elstadt gevorm.

“Ons vul mekaar aan en werk baie goed saam,” sê Kolisi oor dié kombinasie.

Ongelukkig het beserings vanjaar ‘n negatiewe effek op die Stormers se veldtog gehad en kon die Kapenaars se kombinasies nie werklik tot hul reg kom nie. Maar vir Kolisi bly dit ‘n baie spesiale jaar.

Bo en behalwe die feit dat hy aanhou om vir die Stormers te speel, kon hy die groen en goud oor sy kop trek.

“My tyd saam met die Springbokke was ongelooflik,” sê hy. “Ek het soveel nuwe dinge geleer en kan nie in woorde beskryf hoe wonderlik dit was nie. Boonop was my pa daar. Dit kon nie beter wees nie.”

Nou is dit tyd vir die volgende hoofstuk.

Ongelukkig het hy ‘n duim gebreek in verlede jaar se Absa Curriebeker-wedstryd teen die Goue Leeus in Johannesburg en kon hy nie deel wees van die span wat dié trofee in Oktober uiteindelik terug Kaap toe gebring het nie.

Maar hy het vroeër vandeesmaand net 22 geword en daar is seker min of meer ‘n dekade oor vir hom om óók sjampanje uit daardie beker te drink.

Dat hy ‘n goeie kans het om egter vorentoe trofeë saam met die Westelike Provinsie en Stormers te wen, ly min twyfel.

Kolisi, Etzebeth, Ntubeni, Malherbe, Steven Kitshoff, Elstadt, Carr, Louis Schreuder, Pat Howard, Josh Katzen, Cheslin Kolbe… wat ‘n indrukwekkende lys name is dit nie.

Dís jong manne wat die toekoms van rugby in die WP is. En dis ‘n blink toekoms.

DHL Stormers Matchday Magazine

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE