Willewragtag op die flank
Wie sou jou dit kon indink? Toe die DHL Westelike Provinsie verlede jaar sy bekerdroogte van 11 jaar breek, was dit ‘n onbesonge buksie wat buite posisie op die flank gespeel het wie die Curriebeker omhoog gehou het.
Maar teen daardie tyd was Deon Fourie se vermoë om tussen haker en flank te beweeg reeds as vanselfsprekend aanvaar. Dit was die pyle in sy koker wat aanhou bykom het waaroor nou gesels – én gelag – word: Hy staan net 1.77m in sy sokkies en is by geeleentheid al as ‘n lynstaanspringer aangewend.
“Ek het darem nog ‘n 100% rekord as lynstaanspringer!” skerts Fourie oor die een ingooi wat hy geneem het.
“Die veelsydigheid is ‘n pluspunt vir die span. Gelukkig verskil die posisies van haker en flank nie veel in oop spel nie. Daar word mos gesê dat jou haker soos ‘n vierde losvoorspeler is. Ek geniet dit op die flank, want dis lekker om ‘n bietjie losser te wees.”
Behalwe vir sy veelsydigheid as speler, is Deon se volwassenheid veral treffend. Dit kom sterk deur in sy eerlike introspeksie oor wat vroeër vanjaar vir die DHL-Stormers verkeerd geloop het in die Vodacom Superrugby-reeks.
“Dit het vir Allister Coetzee onder baie druk geplaas. Eintlik moes die meeste kritiek op ons as spelers gerig gewees het. Die afrigters verdien veel meer krediet,” sê Fourie.
“Ons is deur foute gekelder. Ons sou byvoorbeeld die bal aanslaan wanneer ons in die teenstander se kwartgebied kom. Die geleenthede is geskep, maar ons het dit eenvoudig nie afgerond nie.
“Daar is soveel in verlede jaar se Curriebeker-reeks bereik en dit het amper gevoel asof ons besig was om dit in die water te gooi.”
Sedertdien het daar egter baie positiewe dinge gebeur. Die Stormers het hulle ondanks die afwesigheid van etlike top-sterre puik reggeruk.
“Ons is ‘n trotse rugbyunie. Ons het nie vroeër vanjaar gespeel soos ons kon nie en moes dinge in heroënskou neem. Sedertdien dink ek die ouens speel goeie rugby.”
Dat die Stormers dít sonder die afwesigheid van etlike top-spelers doen moet nie uit die oog verloor word nie.
Met die uitsondering van die vleuel Gio Aplon, was elkeen van hul Springbokke vanjaar al op die krukkelys. Hulle het deur die loop van dié seisoen al vir Frans Malherbe, Pat Cilliers (albei vaskopstutte), Tiaan Liebenberg (haker), Eben Etzebeth, Andries Bekker (albei slotte), Siya Kolisi (flank), Duane Vermeulen (agtsteman), Peter Grant, Elton Jantjies (albei losskakels), Jean de Villiers, Juan de Jongh (albei senters), Bryan Habana (vleuel) en Jaco Taute (heelagter) aan beserings afgestaan.
Hou in gedagte dat Coetzee nie eers sy eerstekeuse-kaptein vir dié seisoen, Schalk Burger, beskikbaar gehad het nie. Daar was ook beserings aan ander goeie spelers soos Scarra Ntubeni (haker), De Kock Steenkamp (slot), Rynhardt Elstadt en Michael Rhodes (albei flanke).
Enige afrigter en span is met beserings maar aan die genade oorgelewer en die Stormers was eenvoudig ongelukkig.
Nietemin het dié onaangename situasie net weer gewys hoe effektief die WP se sisteme werk om jong spelers op te lewer.
“Jy kan niks aan beserings doen nie. Elke ou wat ingekom het wou eenvoudig net sy beste doen. Jy kan nie oor die beserings tob en die ingesteldheid hê dat jy dit nie sonder daardie ouens kan doen nie,” sê Fourie.
Hy is die verpersoonliking van daardie gees. Ondanks die feit dat hy die WP in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd aangevoer het, is hy waarskynlik die Stormers se vyfde keuse as kaptein na Burger, De Villiers, Bekker en Vermeulen.
“Dis vir my ‘n groot eer,” sê Fourie oor sy waarnemende rol. “Ek het nie gedink dat ek ooit die Stormers se kaptein sou wees met ouens soos Schalk, Jean en Andries in ons sisteme nie. Dis sleg om sulke spelers te verloor. Hopelik het ek goeie leiding gegee.
“Die sisteme werk baie goed van 0.19-vlak af boontoe. Die groot ding is dat die ouens wat inkom baie honger is. Ons kultuur is baie goed.”
Goeie nuus is dat Deon nie van plan is om binnekort sy rugby elders te gaan speel nie.
Die WP het onlangs aangekondig dat hy, Steenkamp en Elstadt nuwe kontrakte tot die einde van 2015 gesluit het. Daarmee saam het Etzebeth tot 2016 geteken.
“Daar is baie dinge wat tans hier in my lewe gebeur,” vertel Fourie oor sy besluit om sy kontrak met die WP te verleng. “Ek trou eersdaags en het ‘n nuwe huis gekoop. Ek wil hier wortels skiet en die getroude lewe ervaar. Die Kaap is ook ‘n baie lekker plek om in te woon.”
Fourie tree op 4 Januarie in die huwelik met Jean-Marie Janse van Vuuren. “Ons was saam op hoërskool en matriekafskeid toe. Dis ‘n vriendskap wat al oor baie jare kom,” sê hy.
Intussen is daar ander vooruitsigte waaroor Deon óók baie opgewonde is. Dit begin met vandag se wedstryd teen die Vodacom-Bulle – ‘n stryd wat Suid-Afrikaners nog altyd gaande gemaak het.
“Dis ‘n tradisionele stryd en die hoeveelheid kaartjies wat daarvoor verkoop is, verklap alles. Dit gaan oor die rugbygeskiedenis tussen noord en suid,” sê Fourie.
Geskiedenis is natuurlik ook die rede waarom hy altyd een van Nuweland se geliefde seuns sal wees. Dis hy wat verlede jaar vir die WP voor gedraf het toe hulle die Curriebeker vir die 32ste keer gewen het – meer as enige ander provinsie in die geskiedenis.
Sy benadering tot die Super-reeks is ewe onselfsugtig. Dit kom altyd neer op ‘n ingesteldheid van “waar die span my die meeste nodig het”.
Nie alle spelers bedoel dit wanneer hulle daardie cliché uithaal nie, want hulle het uiteraard ambisies in hul gunsteling posisies.
Maar Deon Fourie verhef sonder uitsondering die span se belange voor sy eie. Dís waarom hy die spelers om hom inspireer en dit altyd met enige nommer op sy rug sal kan doen.
DHL Stormers Matchday Magazine