Dankie Kaapstad, sê Bryan

Dankie Kaapstad, sê Bryan

11 years ago News

Habana speel Saterdag teen die Vodacom-Bulle sy laaste wedstryd vir die Stormers voordat hy by die Franse klubspan Toulon aansluit.

“Dis nie net vir die Stormers en Westelike Provinsie Rugbyunie vir wie ek ongelooflik dankbaar is nie, maar ook vir Kaapstad se mense. Ek en my vrou is vier jaar gelede met ope arms hier verwelkom,” het Habana gesê.

“Dit was ‘n ongelooflike en wonderlike tyd in ons lewe. Ons het dit van dag een af geniet.”

Habana was ewe dankbaar vir die lojaliteit van Stormers-ondersteuners.

“Mense het ons as span in die goeie én slegte tye ondersteun. Dit was vir my as speler baie lekker om te sien,” het hy gesê.

“Behalwe vir die lekker leefstyl hier, is die mense baie passievol oor sport. Ek gaan waarskynlik in die Kaap wortels skiet wanneer ek van oorsee af terugkeer.”

Habana het in 56 wedstryde vir die Stormers 18 drieë gedruk. Hy het sy buiging in 2010 teen die Leeus op Coca-Colapark in Johannesburg gemaak. Hy het die WP ook in agt wedstryde verteenwoordig en twee drieë gedruk.

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE