Hoe later, hoe kwater

Hoe later, hoe kwater

10 years ago News

“Dit was ‘n lang en moeilike jaar,’ vertel Jaco Taute wanneer hy terug kyk op sy eerste seisoen by die DHL Westelike Provinsie.

Dié heelagter was onder die vele ambisieuse Leeus-spelers wat aan die einde van 2012 by die WP aangesluit het. Sy drome het egter vroeg in April verlede jaar al aan skerwe gelê nadat hy ‘n ernstige kniebesering in die DHL-Stormers se Vodacom Superrugby-wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein opgedoen het.

Dit het beteken dat Taute die res van die seisoen langs die kantlyn moes deurbring voordat hy vanjaar stadig maar seker sy terugkeer gemaak het.

Nietemin het ondersteuners uiteindelik nou ‘n blik gekry op die potensiaal wat in Taute steek. Hy het nou ses wedstryde op ‘n streep vir die Stormers op heelagter begin en lyk toenemend soos die Jaco Taute van ouds.

Die 23-jarige Taute is op sy beste individueel briljant op die aanval, maar as heelagter sluit hy dikwels ook by die lyn aan om vir spanmaats geleenthede te skep. Hy is óók gemaklik op buitesenter, waar hy in 2012 inderdaad drie toetse gespeel het.

Ongelukkig is sy Springbok-loopbaan óók deur sy kniebesering onderbreek. Hy kon nog nie genoegsaam op dreef kom om dadelik weer in die Bok-keurders se planne te wees nie, maar is waarskynlik op pad daarheen.

“Dit was werklik fantasties om vanjaar weer op die veld te wees,” vertel Taute. “Ek voel veral goed nou dat ek weer ‘n paar wedstryde agter die rug het. Ek kan nie meer dankbaar wees nie.

“Daardie besering het my sielkundig getap en dis moeilik om ‘n terugkeer te maak ná byna ‘n jaar van rehabilitasie. Al wat help is om weer op die veld te kom en week ná week te speel.”

Taute se ambisie het hom laat besluit om aan die einde van 2012 as leenspeler van die Leeus by die WP aan te sluit. Die Stormers het daardie jaar vir die derde seisoen agtereenvolgens ‘n tuishalfeindstryd in die Super-reeks losgespeel en vir die tweede jaar agtereenvolgens die Suid-Afrikaanse konferensie gewen.

“Dit was net nadat ek vir die Bokke begin speel het en met die Leeus wat nie Super-rugby kon speel nie moes ek by ‘n ander franchise inskakel. Ek het die Stormers gekies omdat hulle in die voorafgaande jare presteer het,” sê Taute.

“Jy wil inskakel by ‘n span met ‘n wenkultuur en een wat jou sal druk om ‘n beter speler te word.”

Selfs al kon Taute vanweë sy besering nie sy beste spelpeil bereik nie, het die WP nie gehuiwer om hom te teken ná sy kontrak by die Leeus verstryk het nie. Hy is immers té goed om ooit sleg te raak.

Die onderbreking in die Super-reeks vir die Bokke se toetsprogram in Junie was eintlik uit Taute se oogpunt ‘n onwelkome een.

“Dit het goed gegaan in ons laaste vyf wedstryde en ek is eintlik spyt dat ek nie in die naweke onmiddellik daarna kon speel nie. Maar die pouse was ook goed vir die span. Dit toernooi is lank en die lywe was seer,’ sê hy.

Taute voel daar steek nog baie meer in hom as wat hy al vir DHL Stormers-ondersteuners gewys het.

“‘n Mens kan nooit met jou spelpeil tevrede wees nie, maar ek voel gemakliker en die span begin ook beter speel,” sê hy. “Ek wil graag ook my deel vir die span doen. Ek hou daarvan om die bal te dra en ander spelers in goeie posisies te plaas. Dís my sterkpunt.”

Die DHL Stormers se nuutgevonde aanvallende speelstyl pas Taute dus baie goed.

“As jy kyk na die talent wat tans in die span is, is dit spelers wat baie op die aanval ingestel is,” sê hy.

“Ons almal besef daar moet altyd ‘n balans wees, maar ons wil dit graag in die guns van aanval hê. Jy kan egter deur goeie taktiese spel en jou verdediging ook aanvallende geleenthede skep.”

Taute erken hy was aanvanklik oorweldig deur die Kaapse mense se passie vir rugby, maar kan nie meer dankbaar wees vir hoe ondersteuners in hul tientuisende by DHL Nuweland opdaag nie.

“Dis nie altyd die maklikste plek om by aan te pas nie, maar ek geniet dit baie en hou van die druk wat daarmee gepaard gaan,” sê hy.

“Om op DHL Nuweland te speel is ongelooflik. Mense ondersteun jou ongeag die omstandighede. Ek is baie bevoorreg om aan die Stormers verbind te wees.”

DHL Stormers Matchday Magazine

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE