Fourie: ‘n Ware spanman

Fourie: ‘n Ware spanman

10 years ago News

Die Engelse sê dit die mooiste: “There is no ‘i’ in ‘team’.”

Niemand snap dít beter as Deon Fourie nie en sy gewilligheid om sy eie belange ondergeskik aan die span s’n te stel is waarom die DHL-Stormers se afrigter, Allister Coetzee, soveel waardering vir hom het.

Coetzee het mettertyd tot die besef gekom dat Fourie waarskynlik ‘n beter losvoorspeler as haker is. Sy statistieke as oopkantflank vergelyk gunstig met die van spelers van wêreldgehalte. Dis óók die posisie van waar hy die DHL Westelike Provinsie aangevoer het met die wen van die Absa Curriebeker-reeks in 2012.

Nietemin het hy sedert die Stormers se terugkeer van hul toer in Australasië sy slag as haker gewys. Dáár was die kritiek nog altyd dat sy ingooiwerk nie akkuraat genoeg is nie, maar in sy onlangse wedstryde teen veral die Western Force en Cheetahs kon daar nie daarmee fout gevind word nie.

“Ons laaste toerwedstryd teen die Reds was een van die swakste vertonings van my loopbaan op haker. Ek soek nie verskonings nie, maar ek het voor dit lanklaas daar gespeel,” sê hy.

“Sedert ons terugkeer Kaap toe het dit baie beter gegaan. My slaagsyfer by die lynstane is 88%. Dit was ‘n geval van die vrugte pluk van die ekstra ure insit. Ek en Matt Proudfoot (die DHL-Stormers se voorspeler-afrigter) het baie hard daaraan gewerk. Ons het my tydsberekening reg gekry.”

Fourie moes wéér daar inskakel nadat die DHL-Stormers se eerstekeuse-haker, Scarra Ntubeni, by die veteraan Tiaan Liebenberg op die krukkelys aangesluit het.

Waaroor Fourie wel baie spyt is, is dat hy die laaste sege oor die Haaie in Durban misgeloop het. Die DHL-Stormers het teen alle verwagtinge in met 21-19 geseëvier, met die jong hakers Stephan Coetzee en Michael Willemse wat hul slag gewys het.

Met laasgenoemde twee groentjies en Ntubeni in die stelsel, lyk die toekoms op haker blink.

“Stephan en Michael het hul geleenthede met albei hande aangegryp. Scarra is natuurlik óók nog jonk. Tiaan begin ook nou weer oefen en ons het ondanks ontwrigting altyd iemand gehad wat sy man op haker kon staan,” sê Fourie.

Met hul vertonings in Mei het die DHL-Stormers ook baie karakter gewys. Niemand sal wegskram van die feit dat hulle vertonings in die geheel vanjaar nie na wens was nie, maar vier seges in hul laaste vyf wedstryde dui op ‘n ommekeer.

Daarby het die Stormers trots herwin en vir ondersteuners gewys dat daar niks met hul professionaliteit skort nie.

“Ons was met ons terugkeer van die toer onder ‘n bietjie druk,” sê Fourie.

“Gert Smal is as direkteur van rugby aangestel en die span is deur onseker tye. Ons was as span onder druk, maar kan dit nie as ‘n verskoning voorhou nie.”

Terwyl Fourie sy waarde as speler dikwels al uitgebeeld het, is daar die addisionele bonus van sy leierskap. Die 27-jarige Fourie het in 2005 as tienerseun by die WP aangesluit en as mens baie gegroei. Soveel so dat hy as kaptein die Curriebeker gelig het.

Wanneer beserings ‘n tol op senior Springbokke in die Vodacom Super-reeks eis, is dit natuurlik ook manne soos Fourie wat die span deur moeilike tye moet lei.

“Dit toets ‘n span baie as jy vir Jean de Villiers as kaptein en daarna óók nog vir Schalk Burger verloor,” sê Fourie.

“Jy moet die span help om fokus te vind en nuwe doelwitte te stel. Ons het gelukkig nog vir Duane Vermeulen gehad. Die unie is geseënd met sterk leiers en boonop nog uiters belowende jong manne wat besig is om hul voete te vind.”

Coetzee het in 2011 die proses begin om Fourie se leiersrol uit te bou.

“Ek het sedert 2011, toe ek en Tiaan om die beurt WP-kaptein was, baie as leier gegroei. Dis toe dat ek besef het hoeveel vertroue die bestuur in my het en sedertdien het ek daarop voortgebou,” sê Fourie.

Met 10 jaar se diens is daar ‘n sterk emosionele band tussen Fourie en die WP.

“As ek terug kyk op die afgelope dekade, is daar rede om goed te voel,” sê Fourie.

“Gaaf, ek wil baie graag in ‘n span speel wat die Super-reeks wen en kon dit nog nie regkry nie. Ons het ‘n paar geleenthede gehad om dit te doen, maar kon dit nie benut nie.”

Dit sal egter nie Kapenaars se verhouding met Fourie ondermyn nie. “Ek is baie lief vir die Kaap en sy mense,” sê hy.

Daardie liefde kon ‘n mens nog altyd in sy vertonings raaksien.

DHL Stormers Matchday Magazine

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE