Damian die Kroonprins
Kyk jy hoe Damian de Allende sy rugby speel, is dit moeilik om hom te glo wanneer hy aan jou vertel dat hy eintlik ‘n ‘baie stil ou’ is. Op die veld klim hy vreesloos is, oorheers hy teenstanders fisiek en slaan hy sy bors uit pure genot wanneer hy ‘n drie afrond.
“Ek skakel aan op die veld,” sê hy.
“Jacques Nienaber (verdedigings-afrigter) en Robbie Fleck (agterlyn-slyper) het my baie oor kommunikasie geleer. Jy móét ‘n groot mond hê om binnesenter te kan speel. Ek kan ook nie die gevoel beskryf om ‘n drie te druk nie. Dís waarom ek só intens lyk nadat ek afgerond het.”
Die 22-jarige De Allende, of Doogz soos sy ma hom gedoop het toe hy ‘n seuntjie was, kuier dikwels agter die doellyn. Maar dis vernaam sy fisieke teenwoordigheid, veelsydigheid en kernvaardighede wat van hom só ‘n waardevolle speler maak.
Met dié dat die DHL-Stormers die Springbok-kaptein, Jean de Villiers, in die Vodacom Super-reeks beskikbaar het, word daar dikwels van De Allende verwag om sy lyf vleuel te hou.
Dáár is hy ewe gemaklik as op senter. Hy is op 1,89m lank genoeg om hoë balle te trotseer, kan met sy 100kg-lyf die bal opdra sonder dat daar gevrees word dat hy nie fisiek genoeg is om dit in kontak te behou nie, én is met vaart en ‘n goeie aftrap geseën.
Dis egter in die No.12-trui waar De Allende op sy gelukkigste is, hoewel hy natuurlik nie omgee om De Villiers se adjudant te wees nie. ‘n Beter leermeester kon hy immers nie voor gevra het nie.
“Ek geniet dit om op die vleuel te speel, maar sal uiteraard meer speelkans op binnesenter wil kry,” sê hy.
“Die belangrike ding is net om elke geleentheid aan te gryp deur ‘n goeie vertoning te lewer. Jean het my veral op verdediging baie geleer. Dis ‘n area van die spel wat ek nie goed begryp het nie voordat hy my onder hande geneem het.
“Ja, ek sal graag in die era ná Jean die binnesenter wil wees, maar vir eers is ek dankbaar vir enige kans. Ek speel graag ook vleuel en sal binnesenter wil speel wanneer Jean nie beskikbaar is nie.”
Die merkwaardige ding omtrent De Allende is dat daar nog soveel meer in hom steek. Hy het óók ‘n baie goeie aangee waarvan ons toenemend meer sien én ‘n skopstewel wat nog nie veel op dié vlak gebruik is nie.
“Ek het op skool geskop, maar daarna in spanne gespeel waar daar reeds goeie taktiese en stelskoppers was. Eintlik is ek bly daaroor, want dit bied my die geleentheid om op my spel te fokus,” sê hy.
“Dis veel lekkerder om met die bal te hardloop. Maar om te kan skop is ‘n baie goeie vaardigheid vir ‘n binnesenter omdat jy kan help om druk te verlig.”
Wat veral verblydend oor De Allende is, is dat hy nie in die slaggat trap om uitermatig op sy fisieke teenwoordigheid staat te maak nie. Hy vul dit met subtiele vaardighede aan.
“Ek het op skool baie raakrugby gespeel en in die proses ‘n aftrap aangeleer,” sê hy. “Dawie Snyman het ook baie aan my aangeewerk geslyp en my aftrap van my linkervoet af help opknap.”
De Allende het nooit Cravenweek-rugby gespeel nie. In die Hoërskool Milnerton was hy nie in een van die groot rugbyskole waar keurders meeste van die talent soek nie.
“Ek is by WP O19-proewe raakgesien. Dit gaan moeiliker wees om die Cravenweek-groep te haal as jy nie in ‘n tradisionele rugbyskool is nie, maar ek het altyd daarvan gedroom om beroepsport te speel.”
Sy vermoë om ewe goed vleuel as binnesenter te speel, maak van De Allende uiteraard ‘n speler waaroor die Bok-keurders sal praat. Terwyl Fleck glo hy is gereed, is die enigste ding binne sy beheer om sy standaarde hoog te hou. De Allende glo óók hy het gebaat by afrigter Allister Coetzee en WP direkteur van rugby Gert Smal se visie om ‘n meer aanvallende speelstyl na te streef.
“Dis ‘n benadering wat ons ten voordeel sal strek,” het hy gesê. “Dit gaan tyd neem om te vestig, maar ek dink ons gaan mettertyd ‘n span word wat baie vrees inboesem.”
DHL Stormers Matchday Magazine